Sosialistiese realisme

Die eerste trekker deur Wladimir Krichatski
Wanneer kommuniste droom deur Walter Womacka. Posseël wat ter geleentheid van die Xde Partyvergadering van die SED in 1981 deur die DDR-posdiens uitgereik is
Ouditorium van die Boezloedja-monument op die bergpiek Chadji Dimitar, Bulgarye. Met fondse, wat deur die Getty-stigting in Los Angeles beskikbaar gestel word, sal die monument teen verval bewaar word

Sosialistiese realisme (soms afgekort tot Sosrealisme) was 'n kunsbeweging en styl wat in 1932 deur die Sentrale Komitee van die Kommunistiese Party van die Sowjetunie as verpligtend vir die produksie van literatuur, beeldende kuns en musiek gestel is. Dit het later vir die hele sosialistiese stelsel van die Oosbloklande verpligtend geword.

Kunstenaars is opgeroep om die "werklikheid in sy rewolusionêre ontwikkeling... waaragtig en konkreet-histories uit te beeld". Gedurende Josef Stalin se bewind is literêre vormeksperimente en abstrakte kuns ten strengste afgekeur en kunstenaars verplig om die sosialistiese werklikheid volgens 'n partygebonde sienswyse uit te beeld. Hierdie werklikheid is in die kuns gevolglik geïdealiseer en mooier voorgestel as wat dit regtig was. Sodoende het kunstenaars – naas skrywers veral skilders en argitekte – in 'n toenemende mate staatspropaganda oorgedra. Hulle is ingespan om Stalin se leiersrol te bevestig en die mite van 'n nuwe "Goue Tydperk" te skep wat deur die "nuwe, sosialistiese mens" ingelui sou word. Kunstenaars sou dus werke skep wat hul eie tyd bewus glorifiseer.[1]

Sosialistiese realisme het die Sowjet-kunslewe as amptelike doktrine tot die ontbinding van die Sowjetunie in 1991 oorheers. Dit het kort ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog sy sterkste uitwerking op die kunste gehad. Eers ná Stalin se afsterwe in Maart 1953 is die staat se riglyne vir kunstenaars ietwat verslap en afwykings toegelaat, alhoewel openbare optredes en uitstallings van kunstenaars steeds gesensureer is. Sedert die 1980's het kunstenaars in Oosbloklande in nouer aanraking met die kunslewe van westerse lande gekom wat 'n regstreekse invloed op die Oos-Europese kunswêreld begin uitoefen het. Sodoende het Sosialistiese realisme as die heersende kunsstroming reeds voor die politieke omwenteling in die Oosblok vanaf 1989 gekwyn.

  1. www.sozialismus.net: Manipulation durch Kunst – Stalinistische Architektur der 30er und 40er Jahre Geargiveer 21 November 2008 op Wayback Machine (de)

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search